Die gesegde lui, daar is net twee dinge in die lewe wat seker is: die dood en belasting. Die twee loop dikwels hand-aan-hand en beide is (ongelukkig) onafwendbaar. Die wysiging van artikel 9HA van die Inkomstebelastingwet, Nr. 58 van 1962 (“die Wet”) het ’n negatiewe implikasie vir enige boer wat ’n vorm van lewende hawe besit en gereed of ongereeld verkoop.
Die negatiewe implikasie kan as volg opgesom word: lewende hawe, wat deur boere in hul persoonlike hoedanigheid besit word, is voorheen as kapitale bates geklassifiseer en met afsterwe het die lewende hawe kapitaalwinsbelasting tot gevolg gehad. Die wysiging doen weg met die klassifikasie en bepaal dat die lewende hawe nie vir boere kapitale bates is nie, maar dat die lewende hawe eerder voorraad is, gevolglik met dag van afsterwe, lei die geagte verkoop van die lewende hawe nie tot kapitaalwinsbelasting nie maar tot inkomstebelasting.
Wat is die verskil?
Verkope onderhewig aan kapitaalwinsbelasting se opbrengs (dit wat die verkoper ontvang) is verminder met die lewende hawe se standaardwaarde (Die standaardwaarde van lewende hawe is ’n baie lae belastingwaarde wat, ingevolge die Wet, aan lewende hawe gekoppel word), die netto opbrengs is verminder met die kapitaalwinskorting op dag van afsterwe van R300 000 en die uiteindelike kapitaalwins is met die 40% kapitaalwinsinsluitingskoers vermenigvuldig waarna die netto kapitaalwins in die boer se hande belas word teen ’n maksimum belastingkoers van 45%.
Verkope onderhewig aan inkomstebelasting se opbrengs word ten volle ingesluit in die boer se belasbare inkomste, dit word nie verminder met standaardwaardes of enige kapitaalwinskorting nie en word direk belas teen ’n maksimum belastingkoers van 45%. Die belangrikste hier is dat die netto inkomste met die verkoop nie verminder word met die kapitaalwinsinsluitingskoers nie.
Hoe werk dit prakties?
Boer Piet (“Piet”) besit skape, beeste en ’n bietjie wild. Die geraamde waarde van die lewende hawe op die dag waarop Piet sterf is ongeveer R5 000 000. Die standaardwaardes vir skape en beeste is minimaal en vir wild is dit nul.
Piet sou voorheen op dag van sy afsterwe ’n opbrengs op sy lewende hawe verklaar van R5 000 000 minus die minimale standaardwaardes (ons ag dit nul Rand te wees). Gevolglik het Piet ’n kapitaalwins van R5 000 000 wat verminder word met die kapitaalwinskorting van R300 000. Die netto kapitaalwins is dus R4 700 000 waarop die kapitaalwinskorting van 40% verder toegepas word. Piet sal dus aanspreeklik wees vir belasting op ’n belasbare inkomste van R1 880 000. Die toepaslike inkomstebelastingkoers van 45% beteken dus dat Piet R846 000 aan Jan Taks moet betaal.
Piet sal na die wysiging op dag van sy afsterwe ’n opbrengs op sy lewende hawe verklaar van R5 000 000 wat ten volle in sy belasbare inkomste ingesluit word. Piet sal dus aanspreeklik wees vir belasting op die volle opbrengs. Die toepaslike inkomstebelastingkoers van 45% beteken dus dat Piet R2 250 000 aan Jan Taks moet betaal.
Dit is duidelik dat hierdie wysiging die kontantvloei in die boedel onder geweldige druk kan plaas. Dit is van kardinale belang dat daar met die boedel se kontantvloeibeplanning voldoende voorsiening gemaak word die lewende hawe.
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)